Resensies van Afrikaanse
kinder/jeugboeke nr 6/2018
Van Balen, Theresa: ‘n Piekniek op
die strand( LAPA, 2018) Illustrasies Zinelda McDonald.
Beginner
lesers het hier die geleentheid om saam met die twee vriendinne Jana en Alisha
te deel in hul vakansiepret by die see. Wat is nou lekkerder as om piekniek te
hou op die strand? Maar die seuns wil hulle pret bederf, en die meisies klim
toe maar op ‘n hoë duin waar hulle nie lastig geval word nie. Hul hondjie Ben
let op dat ‘n wit wollerige hondjie op die strand sy poot seergemaak het, en
hulle help om hom weer by sy eienaar te besorg. Hulle word beloon met heerlike
roomys, en dit word die beste dag ooit!
Van Balen, Theresa: Vlieërs en
filmsterre( LAPA, 2018)
Die tweede
titel in die Vakansiepret-reeks hou ook heerlike vakansie pwinding vir die twee
in as hulle op soek na ‘n vlieër deel word van ‘n film wat geskiet word waar
twee blommemeisies dringend benodig word. End it nogal saam met Clint du Bell,
hulle filmheld.
Ideale
leesstof vir 7+jariges. Oulike illustrasies toepaslik vir die ouderdomsgroep.
Maartens, Wendy: Max die dapper
gorilla en ander ware dierestories(LAPA, 2018) Illustrasies deur Alex van
Houwelingen.
6 Ware
dierestories met Max die dapper gorilla, Huberta die seekoei, ‘n vlermuis, ‘n
bobbejaan wat lus is vir koek, Zhu die sterk Chinese vark en ‘n beer wat
soldaat word.
Ware
diereverhale was nog altyd gewild in biblioteke, en hier is ‘n goeie balans
getref tussen net genoeg teks en lewendige kleurvolle illustrasies sodat
beginner lesers se aandag gehou kan word. Die gesegde aan die einde van elke storie dra
by tot die leersaamheid van die teks.
Jacobs, Jaco: 101 Dieregrappe, 101
Klop-klop-grappe, 101 lawwe grappe, en grappe vir pousetyd ( LAPA, 2018)
Elkeen van
die 4 boekies bevat 101 grappe vir 7+jariges, met Jaco Jacobs se gebruiklike
fyn humorsin weerspieël in elke grappie!
Daar kan nooit genoeg boeke met grappe in sirkulasie wees nie. Ek kan net sien hoe kinders dit vir mekaar
gaan voorlees en vra.
Siegner, Ingo: Klapper die drakie en
die swart ridder( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhhuys.
Klapper en
die ystervarkie Matilda vergesel sy oom Hardus na die ridderryk om te gaan
waakby die appelboom wat die ridders wil afkap. Maar Hardus beland in die Swart
ridder se kloue wat hom wil gebruik om die koning te oortuig da thy met sy
dogter kan trou. Gelukkig is Klapper en Matilda byderhand om die minnesanger te
help wat werklik lief is vir die prinses, en met Hardus se hulp word die swart
ridder verslaan, en het die verhaal ‘n gelukkige einde vir die jongmense.
Herdie is ‘n
baie aantreklike volkleur reeks met genoeg aksie en verassings om jong lesers
te boei.
Siegner, Ingo: Klapper die drakie en
die groot towenaar( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Klapper enMatilda
loop ‘n bol in die veld raak wat aan hulle vertel dathy eintlik die groot
towenaar Rikus Ringkop is, die heerser van Bottelland, maar dat die slegte
Bokbaard sy towerstaffie gesteel het. Hulle besluit om hom te help om terug te
keer na Bottelland, en die nare Bokbaard ‘n streep te trek.
‘n Heerlike
aksiebelaaide avontuur wat jong lesertjies baie gaan geniet.
Bloemhof, François en Ackermann,
Alistair: Agent Snoet 5 in 1( LAPA, 2018)
Hierdie
uiters gewilde strokiesprente-reeks verskyn nou in een bundel Keurig versorg
met ‘n omslag wat dadelik die aandag trek. Agent Snoet en die Botterdiamant.
Kattekwaad, en die Hondelewe, en die Groen Genugtig,en die Windlawaai is ‘n reeks wat uniek is in Afrikaans en
baanbrekerswerk is gedoen met boeke wat strokiesprente bevat. Kinders is gaande
oor hierdie tipe aanbieding, end it was ‘n briljante idee om dit in een
publikasie saam te vat. Hoogs aanbeveel.
Jacobs, Jaco: Max die masjien( LAPA.
2018) Illustrasies deur Stephen Wallace.
Zander word
op ‘nSondagoggend verras deur ‘n vrou in ‘n goue sweetpak wat hom meedeel dat
hy die groot prys in ‘n kompetisie
waaraan hy deelgeneem het, gewen het. Hy verwag ‘n nuwe Playstation , maar wen
‘n week met Max die Masjien as sy persoonlike lyfwag! Hy is ‘n rofstoeier, en Zander het nie ‘n
idee wat hy met hom gaan doen nie. By die skool moet hy baie spot verduur,
veral van sy grootste vyand, die boelie
Wynand. Miskien gaan dit sy
geleentheid word om Wynand ‘n les te leer?
En Max verbaas die gesin verder as hy Zander se pa leer om meer
oortuigend vir werk aansoek te doen, en dan is hy nog goed met wiskunde
ook…
Jaco Jacobs
stel weereens nie teleur met sy ongelooflike insig in die wêreld van jongmense
nie- hulle drome en behoeftes ook in gesinsverband. Snaaks, onderhoudend en ‘n
wenner. Hoogs aanbeveel.
Wallace se
illustrasies is in die kol- Max die masjien lyk absoluut skrikwekkend!
Taute, Dihanna: Die legendariese Lua
Verwey( H&R, 2018) Illustrasies deur
Theodore Key.
Lua en haar
gesin se manewales herinner my sterk aan die gewilde Lotta- reeks. Sy is ‘n
dogtertjie wat haarself as super slim beskou, seuns haat, uitgesproke en
parmantig is, en dolgraag krieket wil speel- nogal nie iets wat die ander
meisies gaan beïndruk nie!
Sy is
deurgaans aan die woord, en neem die leser saam na haar huis en skool. Die teks is eenvoudig, direk, en weerspieël
die dogtertjie se sterk karakter. Sy sal sommer gou ‘n klomp lesers aantrek wat
met so ‘n karakter kan identifiseer. Veral verassend is die ouers se groot nuus
aan die einde van die verhaal,en soos Lua tereg opmerk: “Ons is nogal ‘n unieke
klomp bymekaar…”
De Wet Hugo: Web van die mummie-
Grilgrypers 2( H&R, 2018) illustrasies deur Shân Fischer.
Stel jou
voor dat jy spinnekoppe uit jou neusgate sien kriewel as jy in die spieël kyk, jouself
troos dat dit net ‘n aaklige nagmerrie is en dan nog verder ontstel word met
die nuus dat daar ‘n kaal mummie op die plaas ontdek word, opgehang, en dat dit
dalk haar pa se vermiste suster Annette kan wees!
Dit is maar
die begin van ‘n uiters spannende en grillerige verhaal wat my enduit geboei
het!
In die nuwe
skool is sy in ‘n kamer saam met 3 ander meisies. Haar Dame is die gawe Melinda
wat haar vertel dat haar boetie Adriaan in die Paarl Hoërskool vir seuns is. Haar koshuismoeder is ‘n reusagtige vrou wat
die meisies Weerbeer noem. Sy sien weer die mummie wat die massiewe spinnekop
se kop afbyt as sy gaan stort…dinge is regtig nie pluis in die skool nie. En
dan sterf Melinda as sy by die trappe afval, en nog erger, toe sy ontdek is,
was haar liggaam oortrek van spinnekoppe!
Die een grillerige gebeurtenis volg op die ander; wat is werklik aan die
gang?
Die
spanningslyn word deurgaans baie effektief gehandhaaf; ek is oortuig die reeks gaan sommer baie
aanhangers kry! Hoogs aanbeveel. Ek het
die boek selfs meer geniet as Grilgrypers 1.
Leonard, M.G. : Kewerwraak( PROTEA,
2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Hierdie is
die finale boek in die kewertrilogie en volg op Kewerknaap en Kewerkoningin.
Soos die
vorige twee titels is die boek deurspek met inligting oor kewers, bevat ‘n
entomoloog se woordeboek , bronne en webwerwe waar lesers meer kan leer oor
hierdie interessante ongewerweldes.
Maar terselfdertyd
is dit goed geskryf, is daar interessante avonture waarop die karakters gaan,
en die finale reeks gebeurtenisse waar Darkus en sy vriende Lucretia Cutter se
geheime vesting- die bioom in die Amasone-reënwoud probeer opspoor, is
opwindend en vol verassings.
Die verhaal
bereik ‘n klimaks met die deurslaggewende geveg in die bioom- gaan Darkus en sy
oom Lucretia kan verslaan?
Die reeks
word hoogs aanbeveel vir lesers wat ‘n verhaal soek met baie lyf en detail en
defnitief met literère meriete.
Van den Berg, Jacolet: Kate in
Harmonie( LAPA, 2018)
Kate en haar
ouers en broer Dieter moet hul geliefde Johannesburg groet om op ‘n plaas naby
die Paarl te gaan woon sodat haar pa weer kan werk.
Sommer
dadelik word sy aangetrek tot die perd Harmonie wat duidelik ‘n probleemperd is
, en niemand waag dit om ‘n saal op sy rug te sit nie. Will is die plaasseun
wat haar tuis laat voel, asook Els wie se pa Vrydagaande te veel drink. Kate besluit sy moet Harmonie se vertroue
wen,en sy spandeer baie tyd langs sy kamp sodat hy aan haar gewoond moet raak.
Maar nou is daar die moontlikheid dat hy verkoop gaan word, en dit mag netnie.
Aanfanklik is sy ook bekommerd oor haar broer wat hom onttrek en met verkeerde
seuns deurmekaar raak.
Hierdie was
nie vir my sommer net ‘n gewone voorspelbare perdestorie nie. Dit is goed
geskryf, die karakters is oortuigend, en die boek raak spesiaal met die
uitbeelding van Kate en Harmonie se verhouding. Karakter ontwikkeling vind
plaas, elkeen groei op ‘n eie spesiale manier, en as leser gee dit jou ‘n warm
gevoel. ‘n Potensiële goeie skrywer wat hopenlik nog gaan skryf.
No comments:
Post a Comment