Lulu se nuwe avontuur, en die SANLAM
pryswenners 2019:
Viljoen, Fanie: Olke bolke, Lulu(
LAPA, 2019)Illustreerder Elsbeth Eksteen.
Fanie
Viljoen se gewilde reeks oor die dogtertjie Lulu met die talent om klere te
ontwerp, deel hier met haar jong lesers ‘n nuwe avontuur, getooi in Elsbeth
Eksteen se kenmerkende dogtertjie-vriendelike illustrasies.
Op ‘n dag
ruik Lulu babapoeier in hulle huis. Oom
Theuns die motorbestuurder het gevra of hulle ‘n paar dae na die seuntjie kan
kyk terwyl sy dagmoeder siek is. By die skool is daar ‘n nuwe leerder in hulle
klas, Greta. Greta prober dadelik almal se guns wen met koek uitdeel, maar
agter Lulu se rug beskinder sy haar by die tweeling. Sy daag Lulu uit met ‘n
modeparade-kompetisie. Lulu wil graag ‘n modeontwerper word, maar dalk is Greta
meer talentvol as sy. Toe haar boek waarin sy al haar idees aanteken verdwyn,
maar later weer verskyn,is sy stomgeslaan om
by die kompetisie te sien dat
Greta se ontwerpe presies soos hare is! Behalwe natuurlik vir die finale
ontwerp wat sy nie in haar boek gehad
het nie, en waar Greta se gebrek aan talent toe baie duidelik openbaar word.
Dalk het Greta nou ‘n les geleer.
Ideale leesstof vir beginnerlesers wat hou van
regte verfynde “dogtertjie”-stories met frilletjies en valle en oulike babas…
en ‘n gawe talentvolle hoofkarakter wat ten spyte van Greta se afguns, nogtans
bereid is om daarna met haar vriende te wees.
Derick van der Walt:Toring van
Jasmyn( Tafelberg, 2019). SANLAM pryswenner- Goud vir Jeuglektuur.
Markus en sy
sussie Nina en ‘n vriend Neil vergesel hulle pa op ‘n besigheidsreis na Istanbul.
Die verhaal
is dus geplaas in hierdie kleurvolle maar ook gevaarlike milieu waar ‘n bom
onlangs op die lughawe ontplof het. Tipies jongmense verken elkeen die nuwe
vreemde omgewing op hul eie manier: Nina
koop net aanmekaar goed, maar Markus word geïnteresseerd in die ou gebou, die
toring van Jasmyn op een van sy nagtelike wandelings. Hy let op dat jong mans
in swart gekelee die plek besoek en wonder waarom hierdie besoeke gaan.
Nina raak
bevriend met die Turk Sahib, en hy nooi Markus om saam met sy span sokker te
speel. So word hulle ook genooi na Sahib se oom se huis, en hulle ontmoet ook
sy suster Meryem en ander familie.
Die toeriste
bedrywighede van die karakters word ‘n
ervaring vir elkeen op ‘n veel dieper vlak deurdat hulle met ‘n Turkse gesin
bevriend raak. Terselfdertyd is daar ‘n sterk spannings-element met Markus se
belangstelling in die Toring van Jasmyn wat opbou tot ‘n klimaks wanneer Nina
ontvoer word en hy vermoed waar sy aangehou word.
Derick van
der Walt kyk na Istanbul met fyn waarneming en interessante kommentaar, en sy
beskrywings van die plek is netso kleurvol as Istanbul self.
Die
jongmense word ook oortuigend uitgebeeld, elke individu is geloofwaardig en
oortuig, ook Neil met sy boodskappe aan ‘n vriendin waarin hy kommentaar lewer
oor hierdie gesin. Neil vertel dan aan haar dat Markus ‘n stiefma Charlotte het
en dat hy emosioneel nognie die egskeiding van sy ouers aanvaar het nie. Maar
ook hier vind daar ontwikkeling plaas en maak Markus kontak met haar d.m.v die lampie
wat hy toe vir haar koop. Die leser
hoor ook dat Neil sy ouers verloor het.
Hier is daar
dus nie die fout wat so baie skrywers maak om issues ‘n sentrale fokus van die
verhaal te maak nie; karakters se emosionele problem plaas soms ‘n demper op
die leser se genot met die lees van ‘n verhaal.
Hierdie skrywer weet hoe om ‘n gesonde balans te handhaa. Baie subtiel
vertel hy jou van persoonlike problem
waarme die jong karakters worstel, en baie subtiel ook weer is daar die tekens
van hoop en vernuwing.
Van der Walt
is gemaklik met Afrikaans, met sy karakters en vertel ‘n boeiende verhaal wat
afspeel in ‘n eksotiese omgewing, maar ook word jy as leser bekend gestel aan
werklike mense in hierdie vreemde land en die probleme waarmee ook hulle te
kampe het.
‘n Waardige
wenner van die SANLAM goue medalje. Die boek sal tieners boei en betrek ook op
emosionele vlak.
Barnard, Annerle: Sindikaat( Tafelberg, 2019). Silwer medalje wenner.
Paul en sy
twee vriende Karlien en Adriaan is in opdrag van Paul se pa op ‘n safari na
Zimbabwe en Zambië onder aanvoering van die rowwe onverskrokke recce Bossie.
Hulle is in lewensgevaar nadat Paul heel onskuldig en niksvermoedend sy hand in
‘n Chinese vriend Chang se beskuitblik
gesteek het en hulle so bloot toevallig
met ‘n sindikaat en smokkelary kennis gemaak het. Buitendien was Paul voorheen
ontvoer, en vandaar sy pa se besluit dat hy ‘n lyfwag moet hê. Bossie moet die
jongmense beskerm teen moontlike bendelede wat Paul se bloed soek, en hy tref
voorsorgmaatreëls, selfs deur wapens oor die grens te smokkel. Hulle eerste
kennismaking met die vyand is by die Victoria Falls Nasionale Park. Bossie
reken egter gou met die twee aanvallers af.
Baie minder vervelig as my verbeeldinglose
weergawe van gebeure is die werklike situasies en veral Paul se kommentaar,
emosionele uitbarstings en waarnemings
in kleurvolle byderwetse taal wat tieners ken. Daar is wrede situasies ook,
soos toe Paul sy geliefde kat Russel gekruisig gesien het voor hul vertrek, of
Guinness die hond wat net net ‘n aanval oorleef, of Karlien se poedel se keel
wat afgesny word… of die boot aanval op die Zambesi rivier…
Hierdie word
‘n reis van vele spannende ontmoetings tussen die jongmense, hul beskermheer
Bossie, en ‘n sindikaat wat hulle medoënloos agtervolg.
Die skrywer
plaas die gebeure in Zimbabwe en Zambië in hoofstukke, afgelos met hoofstukke
wat die gebeure in Bloemfontein vooraf, vertel. Hierdie is dus ‘n slim manier
om die leser geleidelik ‘n volledige prentjie te gee van die hele ontplofbare
situasie waarin die karakters hulle bevind.
Paul as
verteller is ‘n boeiende energieke hoofkarakter met sterk emosies en hy
handhaaf ‘n vinnige tempo van vertel en meelewing. Sy beskrywing van situasies en insidente is
skerp, soms komies en altyd raak, bv. as hy sê: “ Bossie se kop raas in
stereo”. En “As die humiditeit jou
alleen in hierdie wêreld kry, pop hy jou soos ‘n springmielie”.
‘n Verhaal
wat op ‘n gallop hardloop en die leser ‘n genotvolle leeservaring bied.
No comments:
Post a Comment