Resensies
1/2019:
Viljoen, Fanie: Hokaai, Lulu( LAPA,
2018) Illustrasies deur Elsbeth Eksteen.
Die gewilde
reeks met kunstige Lulu as hoofkarakter kry ‘n 5de titel by! Lulu verjaar, en
nadat die tweeling Alex en Alet haar eers skrik gemaak het met ‘n monster uit
twee opblaas balle, word haar verjaarsdag soveel lekkerder as sy ‘n pragtige
ponie Roset as geskenk ontvang!
Dadelik
begin sy met rylesse by die skool waar die tweeling ook perdry.
Tannie
Magriet van die Sonskyn-stalle vertel aan die kinders dat hulle binnekort op ‘n
piekniek uitstappie gaan, en dat hulle kostuums kan dra. Dit is so reg in Lulu
se kraal. Sy ontwerp eers vir haar vriendin Carmen ‘n pragtige rok, en vir
haarself later ‘n verassing- sy is die koninging Marie Antoinette.
Hulle trek
name uit ‘n hoed oor wie hul rymaat gaan wees. Sy trek Alet se naam, , en is nie opgewonde om met ‘n
aardsvyand saam te ry nie. Maar wanneer haar ponie skrik vir ‘n slang en sy in
die gevaarlike woud beland, is dit Alet wat haar help. Die twee bring ‘n nag saam
deur in die woud, maar word die volgende dag gered deur Lulu se pa. Alet moet
saam met Alex kamstig ‘n vyand bly, maar Lulu besluit om Alet se droomrok te
maak.
Hierdie
reeks tokkel die hartsnare van elke dogter wat soos Lulu pragtige klere wil
dra, en wie se huislike omstandighede kommerloos en geborge is met genoeg
versorging en omgee. Elsbeth Eksteen
sorg vir pragtige verbeeldingryke uitrustings en versterk die gevoel van sagte vroulikheid
met haar illustrasies.
Viljoen, Fanie: Die dag toe die draak
kom( Human& Rousseau, 2019). Illustrasies deur Tumi K. Steyn.
Twee boeke ,
een vir meisies en een vir seuns, met die hoofkarakters onderskeidelik ‘n seun
en ‘n meisie , vertel die verhaal van ‘n jong kind in ‘n gesinsverband met ‘n
ma en ‘n boetie of suster en die ma se vriend, Oom Jason.
Kyla is ‘n
onskuldige jong kind wat nie kan verstaan hoekom haar suster gedurig in haar
kamer wegkruip nie, en haar ook waarsku dat daar ‘n draak in hulle huis is.
Kyla wonder wie die draak is, en eers wanneer sy alleen by die huis is en swem,
word sy met die waarheid gekonfontreer.
Gelukkig is sy dapper, en gewapen met die rympie wat Juffrou Arendse die
kinders geleer het, o.a. dat sy ‘n lyf het, maar dit is hare alleen.
Die skrywer
sluit ‘n belangrike afdeling in waarin die kinders geleer word hoe om ‘n draak te identifiseer,
oor goeie en slegte vrees, veilige en onveilige vat, geheime wat goed en sleg
is, en wat jy kan doen om jou teen ‘n draak te beskerm.
Daar is ook
handige inligting vir ouers en onderwysers, ‘n verwysing na webblaaie op die
internet, en instansies waar hul om hulp kan gaan met selnommers. Philip de Vos
het gehelp met die rympie.
Hierdie twee
boeke behoort in elke biblioteek, skool en ook in tuisversamelings, veral waar
dit aanvullend is tot min, indien enige, soortgelyke boeke in Afrikaans. Hoogs
aanbeveel.
Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die monster-melkskommel(
LAPA, 2019)
Zackie en
Vincent is oortuig hierdie gaan die goorste skoolvakansie ooit wees, want Anton
en sy neef verhoed hulle om in die park te speel en bedreig hulle met hul
monster watergewere; by Vincent hulle se huis word gebou, en Zackie se huis is
ook ‘n gevaar-sone met die tweeling Zita en Zander wat langsaan by mevrou
Langenhoven kuier, en uiters vervelige
geselskap is.
Maar dan is
daar ‘n kompetisie om monster-mekskommels te drink, en dit is dalk die
geleentheid vir die twee maats om die Zirts 4000 waterpistole te wen!
Ongelukkig
neem Anton ook aan die kompetisie deel. Zackie dink hy is sy grootste
teenstander, hulle is gelykop, maar die tweeling wen sowaar die kompetisie! So
bring die vakansie ook nuwe maats, en dit mag dalk die beste vakansie ooit
wees!
‘n Gewilde
reeks, altyd groot pret.
Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die
fantastiese fliek( LAPA, 2019).
Agent Felix
en sy hond Flitz is die twee maats se gewildste aksie program. Zackie se pa
vertel hom dat die vervaardigers ‘n Felix en Flitz –fliek gaan maak, en hulle
is op soek na jong akteurs om in die fliek te speel.
Hulle
besluit om vir die oudisies te gaan, maar eers moet hulle karatelesse neem.
Maar natuurlik is Anton die boelie hier en trek Zackie en Vincent ‘n nare streep- altwee doen beserings op en word
buite aksie gestel.
In die
parkie lyk dit asof Frankenstein die vreemde hond herken wat verdwaal
het. Zackie besef dat dit Fitz van die
tv-reeks is, eintlik Peanut, en hulle
moet die hond by die teater aan sy eienaar terug besorg. So kry die twee maats tog rolle in die fliek,
en Anton kry die rol van Goor Elsa, ‘n meisie!, tot hul groot vermaak.
Die 16de
titel in hierdie gewilde reeks waarin die twee maats tog vir Anton die boelie
die stof laat byt.
Omnibusse : Roux, Lize: Stalmaats omnibus 3( LAPA, 2019); en
Van Baalen, Theresa: Sanri Steyn
omnibus 1 en 2( LAPA, 2019 ).
Dit is so
belangrik dat gewilde reekse soos die Stalmaats-reeks en Sanri Steyn-reeks ook
in omnibusse verskyn. Enkel titels in
reekse verdwyn gereeld uit biblioteke , deur diefstal of omdat die boek reeds
in ‘n swak toestand is en onttrek moet word uit die versameling. Lesers van reekse wil die volgende titel in
die reeks lees, en met die omnibusse word
‘n reeks soveel meer toeganklik.
Johan
Strauss verdien komplimente vir sy wonderlike illustrasies vir die Sanri Steyn-
reeks.
Lochner, Helena J.F. : Kleuterland(
PROTEA, 2019) Illustrasies deur Alida Bothma.
Kleuterland
was oorspronklik deel van die reeks van ses bundels, naamlik Diereland,
Storieland, Kammaland en Avontuurland.
PROTEA uitgewers bring hiermee
die geliefde reeks weer na nuwe jong lesers sodat Lochner se bydrae tot
die Afrikaans kinderlektuur nie verlore gaan nie. Alida Bothma het gesorg vir
‘n bekoorlike vars nuwe omslag. Die inhoud word keurig aangebied op
glanspapier, en met Bothma se illustrasies deurgaans effektief geplaas sodat
teks en illustrasies saamwerk tot ‘n baie aantreklike boek.
Kleuterland
is ‘n versameling van 40 stories . In die eerste ses stories bestaan die woorde
slegs uit drie letters, gevolg deur woorde wat groei na vier tot vyf letters en later moeiliker langer woorde.
Die druk is
lekker groot en mooi gespasiëer op die bladsye. Kleuterland is ideal vir
voorlees en vir kinders wat self begin lees.Soos hul vorder in die boek kan
hulle ook geleidelik langer en moeiliker woorde
baasraak. Ek is dankbaar oor
hierdie inisiatief om ‘n geliefde skrywer ook vir ‘n nuwe generasie beskikbaar
te maak.
Nie-fiksie:
Ince, Martin: Skuif( PROTEA, 2019)
Vanaf die
begin van lewe tot in die toekoms word die evolusie van die wêreld in hierdie
groot formaat-boek ( 370x272mm) uitgebeeld in ‘n toeganklike verstaanbare teks
en met kaarte en illustrasies wat die publikasie uiters aantreklik maak.
‘n Tydlyn,
woordelys, indeks en erkennings, ook aan
die Natuurhistoriese museum in London vir illustrasies.
Inleidend
word die dans van die kontinente bespreek, gevolg deur die verskillende chronologiese
tydperke wat 4,5 miljard jaar gelede begin met die vorming van die aarde,
gevolg deur tydperke tot 50 miljoen jaar gelede en vandag-2000HJ- die
Antroposeen tydperk, en ter afsluiting die toekoms vanaf bladsy 72.
Prakties
gesproke met biblioteek versamelings in gedagte, sou ek nie die boek plaas in
sirkulasie nie, maar wel in ‘n naslaan afdeling. Hierdie is meer wat ek sou beskryf as ‘n “koffietafel-boek”,
baie pragtig , maar moeilik om te hanteer –dit moet op ‘n oppervlakte neergesit
word vir makliker hantering.
No comments:
Post a Comment