Leonard, M.G.: Kewer-koningin(PROTEA,
2017) R195 Afrikaanse vertaling Kobus
Geldenhuys
Lucretia
Cutter het nou daarin geslaag om haarself te metamorfoseer na ‘n kewer, en vir
haar is die tyd nou ryp om die wêreld oor te neem met haar mag van transgenetiese
kewers. Sy beplan om met die Filmtoekennings in California voor die skare haar
magsoorwinning bekend te maak. Hoewel sy ook daarin slaag om die meeste van die
Emporium kewers te laat verbrand, is daar nog steeds die drie jongmense-
Bertolt, Virginia en Darkus, Bartholomew Cuttle se seun , wat haar planne omver
wil werp en met die oorblywende kewers mobiliseer teen haar vernietigende
magte. Die klimaks tot die verhaal is dan die geveg in die teater waar sy wel
slaag om te ontsnap.
Hierdie hooftema
word deurvleg met verskeie karakters se optrede
soos haar dogter Novak wat Darkus hulle probeer help; Darius se pa wat
hom weer aansluit by Lucretia om haar te probeer beïnvloed; oom Max Bartholomew
se broer wat ook die jongmense help; die twee dom broers Pickering en Humphrey
wat hul geld van Lucretia wil eis; Calista Bloom Bertolt se verspotte ma, en
Ling Ling Lucretia se gevaarlike vegter. Dokter Yuki Ishikawa word ook betrek
by ‘n reddingsending na die Amasone om o.a.Barty en Novak uit Lucretia se kloue
te red.
Die kewers
speel deurgaans ‘n belangrike rol: die drie jongmense het elk hul eie
persoonlike kewer soos Darkus se geliefde Baxter en selfs Novak versteek haar Hepburn van
vyandige kewers.
Hierdie is
die tweede boek na Kewerknaap in die trilogie waar Kewerwraak nog moet verskyn.
Opwindende
interessante leesstof propvol inhoud en inligting oor kewers- daar is selfs ‘n
entomologiese woordelys ingesluit. Interessante karakterisering en genoeg
grillerige goggas en kewers om die leser betrokke te hou by ‘n “anderse”
verbeeldingryke avontuur. Hoogs
aanbeveel.
No comments:
Post a Comment