Goosen, Troula: Maanlig-meermin( Tafelberg, 2017) R140
Kate se pa
besluit onverwags na hy ‘n brief ontvang om hul vakansie in Durban te
kanselleer en na sy geboorteplaas in die Karoo, Kaimanskuil te gaan. Amber
vergesel Kate, en sommer met die aankoms op die plaas lyk dinge spookagtig en
onheilspellend: Ant Jannetjie ontvang hulle baie onvriendelik en waarsku haar
pa dat hulle nie moet bly nie; Donovan is die plaasseun wat die Saksofoon so
mooi bespeel; die pragtige Sirene woon ook in die huis; die buurplaas is die
tuiste van die seun Herman en sy ma. Daar is ook verwysings na ‘n Karoomeermin,
Nyah teen wie sy gewaarsku word.
Die verhaal
ontwikkel in intriges tussen die paar jongmense; Kate wat bonatuurlike
ervarings het; soektogte en verdwynings en
‘n testament wat die ou man iewers versteek het… wie was Kate se ma? Waarom is die waterval in die Kloof so
belangrik? Gaan Kate oorleef of ingetrek word by die meermin se behoeftes?
Ligte
leesstof met ‘n verbeeldingryke mengsel van avontuur, fantasie, ‘n moontlike
liefdesintrige en skrikwekkende ervari ngs.
Die boek hardloop met ‘n gallop tot die einde! Troula Goosen het
defnitief ‘n baie vrugbare verbeelding, maar nie noodwendig ‘n sterk literêre
inslag nie.
Smit, Louise: Haas Das se nuuskas(
H&R, 2017) R140 Illustrasies deur Vian Oelofsen.
Haas Das se
Nuuskas maak ‘n belangrike deel van elke dier in Diereland se lewe uit- om ses
uur is dit hul geleentheid om te sien wat alles in Diereland gebeur.
Koning Leeu
bespreek die nuus met Haas Das en vertel van sy samesprekings met verskillende
diere- Grootoom Flapoor Olifant, oupa Dassie en Bulletjie Wildebees het elkeen
‘n klagte waarna die koning moet luister: grotendeels gaan dit hier om oud word
en min waardering vir hulle wat altyd die ander diere beskerm het, en hulle
moet nie onnodig skrikgemaak word nie.
Meggie
Mossie kry gedurig Piet-my-vrou se kleintjies in haar nes om te help grootmaak,
en al wat Moeder Raaf doen is om haar te kritiseer. Piet Muis doen die
weerverslag, en vir sportnuus is daar hasie Kwassie wat aan n marathon oorsee
gaan deelneem.
Hierdie is
die eerste titel in ‘n nuwe reeks wat ideaal is vir kinders wat self begin lees of vir voorlees.
Vian
Oelofsen se illustrasies is oorspronklik, lewendig, vol humor en maak die hele
boek toeganklik en lekker om te lees. Die diere se gesigsuitdrukkings spreek
boekdele; Koning Leeu is deurgaans ‘n groot teenwoordigheid; en Haas Das met sy
helderblou das met ‘n silwer ster daarop lyk absoluut die outoriteit as
nuusleser! ‘n Baie aantreklike boek.
No comments:
Post a Comment