Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie: die
padda-poets( LAPA, 2016)
Die geliefde
karakters Zackie en sy vriend Vincent gee hier die geleentheid vir beginner
lesers om self ook van hul manewales te lees. Min teks in groot druk maak die
leeservaring maklik; en Alex van Houwelingen se illustrasies is in die kol met dierbare kindergesiggies wat
spreek van ondeundheid en pret.
Toe Zackie
en Vincent besluit om die padda Meneer Slym skool toe te neem om die tweeling
‘n poets te bak – twee meisies wat van pienk en ponies en prinsesse hou, word
selfs die boelie Anton verras met die meisies se reaksie!
Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie- Die
rowwe resies( LAPA, 2016)
Zackie en
incent verf hul kaskar om aan die resies deel te neem. Anton die boelie het
natuurlik ‘n duur, vinnige kar en is reg om die twee te wen. Maar hul kaskar se
wiel val af, en Anton is die wenner. Maar Jolanda het ‘n foto van die resies
geneem, en wie verdien nou om te wen?...
Jaco Jacobs
skryf weereens in die kol met sy aanvoeling vir die gedagte-en ervaringswêreld
van die kind. Twee boekies wat Zackie nog meer aanhangers gaan besorg!
Biegel, Paul: Die groot klein
Kaptein( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Daniel Hugo
In die
sewentiger jare verskyn hierdie klassieke werk as drie individuele publikasies,
hier in een pragtige boek saamgevoeg.
Die klein
Kaptein woon in ‘n boot. Hy moet sy boot , die Nooitlek, weer vaarbaar maak om
die reis na die Eiland van Groot en Groei te begin. Die kinders in die
hawedorpie help hiermee, en Dimi, Dik Druif en Marinka en Bang Tonie word sy
metgeselle op die vele avonture wat gaan kom. Hulle vaar deur ‘n draakpoort van
klip, vind ‘n geheimsinnige eiland waar mak sirkusdiere hulle inwag; ‘n
spookstad waar alles grys is behalwe die plakkate van ‘n kleurvolle vrou; die
land van Waan en Wys; en later die land van Skrik en Vrees.Seerower Skobbedonk
op sy spookskip sal eers losgetoor word van die stuur van die boot wanneer die
skate wat hy gesteel het by al die regmatige eienaars afgelewer word. En die
klein Kaptein is gedetermineerd om dit reg te kry…
‘n Fees van
fantasie met kleurvolle karakters en verbeeldingryke situasies wat aan jong
lesers ure van vermaak gaan verskaf. Marinka wat elke probleemsituasie prober
oplos met pannekoek bak; en Bang Tonie wat gedurigdeur te bang is om homself te
laat geld.
Die teks
word aangevul met ongelooflike illustrasies deur Carl Hollander. Kleurvolle
volblad illustrasies van ‘n reus teenoor die klein bootjie; kleurvolle blomme
met die kinders wat die groot sakhorlosie prober dra; skrikwekkende drake;
seetonele met vlieende visse; sirkusdiere; ‘n grys stad; Vader Bloukrap se
seetuin; ‘n vuurtoring wat hoër gebou moet word; selfs ‘n kameelperd in die
woestyn; ‘n drywende stad; en ‘n wit yskasteel waarin die hartseer edeldame
woon- hierdie is ‘n fantasie wêreld waarin elke kind wat lief is vir lees weer
en weer ‘n nuwe avontuur kan beleef. En die boek is ook ideal vir voorlees .
Hoogs aanbeveel as ‘n baie spesiale boek, knap vertaal deur Daniel Hugo.
Tiener boek:
Viljoen, Fanie: Afkop( LAPA, 2016)
Doller as
afkop kan dit mos nie gaan nie! Of hoe?
Fanie
Viljoen neem die leser hier op ‘n wilde spannende opwindende rit wat net groei
en aanhou sodat jy amper nie asemhaal voor dit by die laaste bladsy kom nie!
Trent wil so
graag inpas by ‘n groep jongmense dat hy enige iets sal doen; selfs saamgaan op
‘n motorrit in ‘n gesteelde motor wat eindig in ‘n ongeluk met net hy wat
agterbly en toe die sak ontdek met die half miljoen Rand daarin. Decker
vertel hom later:
“ Omdat jy
so needy is . Jy wil saam met die groot ouens speel, maar hulle wil nie saam
met jou speel nie”.
Eers is daar
die genot van soveel geld net vir himself te hê. :
“ Dis
tweehonderdrandnote. Daardie oranje luiperds wat nog nooit ‘n draai in hierdie
kamer of my beursie gemaak het nie.”
Maar gou
verskyn sy sogenaamde vriende ook op die toneel en dit verander in ‘n
toutrekkery- wie gaan nou wegkom met die geld? Ongelukkig is die regte eienaars
gou op hul spoor, en die hele riller
word groter en gevaarliker vir hulle almal. Wat gaan uiteindelik gebeur? Sal
die jongmense ontsnap uit die hande van die dwelmsmokkelaars?
Viljoen
skryf hier op sy beste met ‘n sekere hand en tegniek wat getuig van ervaring.
Die taalgebruik is eenvoudig; die spanningselement word gehandhaaf, en dan is
dit ook ‘n toets vir Trent om te besluit wat vir hom die belangrikste is- die
geld of ‘n terugkeer na sy normale bestaan .
Op ‘n stadium
sê hy:” skietgebedjies met beloftes om vir altyd en ewig ‘n model tiener te
wees as hy net lewendig kan uitkom”.
Spanning en
intrige op ‘n gevaarlike drafstappie, soos ‘n weghol trein wat nie tot
stilstand wil kom nie! Hoogs aanbeveel; Viljoen se lesers sal weer kennis maak
met sy besondere talent.
“
.
No comments:
Post a Comment